English
Wat is daar om te doen in Marloth Park
Dit is nie moontlik om verveeld te raak in Marloth Park nie! Hierdie dorp diep in die bos is baie uniek.
Deur stil en rustig te wees sal jy die bos werklik kan waardeer, en dit is juis hoekom jy al die pad hierheen gereis het.
Hou op om rond te hardloop, jy is nie meer in die stad nie, ontspan met skemerkelkies by die swembad, wees rustig en luister na die natuur,
dit alles terwyl jy die stompe dophou in die vuur, voordat jy met jou braai begin!
Terwyl jy snags in die vuur staar, kyk op na die lug, die glans van al die sterre sal jou asem wegslaan! Dit is ons TV in die bos!
Sommige nagdiere sal rondspring, Nagapies en Vrugte Vlermuise sal vrugte kom eet as jy dit vir hulle aanbied.
Jy sal nagvoëls hoor roep en pret hê terwyl jy probeer om te identifiseer watter voëls dit is. Insekte wat jy nog nooit gesien het nie,
sal verskyn en klein Vry-stert Vlermuise en Geitjies sal opdaag om sommige van die insekte gulsig op te eet. Op party aande kry jy 'n
Oscar-wenvertoning vanaf brullende Leeus, die verbasend gelukkig klinkende “whoop” geluide van Hiënas, of die dreunende geluide van Seekoeie
wat vir spasie in die nabygeleë krokodilrivier kompeteer. Die beste hiervan is dat daar geen agtergrondsverkeer of ander stadsgeraas is nie,
net die ontspanne ervaring van die heerlike Afrika-bos!
As jy op jou eerste aand hier gaan slaap, sal jy al klaar ligter voel. Die bos werk vinnig sy toorkuns as jy net stil is en dit inneem.
Marloth Park het verskeie kilometers toegankilke rivierfront, met fenomenale uitsigte direk in die rivierbedding en in die Kruger Wildtuin in!
Daar is 'n pad en ‘n twee spoor paadjie reg langs die rivieroewer wat jy op die kaart kan vind. Hierdie paaie raak baie besig gedurende naweke en skoolvakansies,
so bring jou fiets of huur een hier. Jy kan ook langs hierdie roete stap of draf, maar hou by die aandklokreël van geen stap, draf of fietsry tussen 18h00 tot 06h00 nie.
Hou die sosiale media blaaie van “Marloth Park Sightings” dop vir die nuutste nuus van waneer die Groot 5 en ander diere aan die Kruger Wildtuin se kant van die heining gesien word.
Om langs 'n gedeelte van die heining te ry is die moeite werd, selfs al wys nie een van die Groot 5 hulleself nie. Daar is ‘n wonderlike verskeidenheid ander diere en voëllewe
op en om die rivier. Waterbokke, Seekoeie en Krokodille is aan die rivier verbonde, so hulle is byna altyd daar om gesien te word.
Om in ons strate te stap waarborg 'n noue boservaring. Onthou net dat alles van die paaie en staproetes af privaat eiendom is, so moenie in die bos afdwaal nie.
Jy sal beslis diere van alle vorms en groottes teëkom. Die grootste genot hiervan is dat hulle vry rondloop, net soos jy, om na willekeur te dwaal.
Stel jouself voor jy of jou kind pronk met 'n vakansie foto wat afgeneem is net meters van 'n Sebra of selfs 'n Kameelperd af!
Jy sal baie besoedelingsvrye, lae-seevlak suurstof ryke lug inasem wat deur jou longe vloei en ook spiere rek wat dalk vir 'n rukkie nie gewerk het nie, sodat jy uitgeput kan gaan slaap.
As stap nie jou ding is nie, kan dit ook opwindend wees om stadig met ons paaie te ry, met inagneming dat jy in 'n Natuurbewarings gebied is en dat alle wilde diere reg van toegang het.
Ons rem vir slange! En alle ander diere natuurlik.
Winkels
Daar is 'n verskeidenheid winkels in ons twee winkelkomplekse by beide die Bush Mall en die Marlothi Winkelsentrum, wat die een is met die petrolpompe in die vorms van Afrika diere.
Moet egter nie 'n kompleks of winkelsentrum verwag soos waaraan jy tuis gewoond is nie. Heerlike tuisgebakte lekkernye is by albei sentrums beskikbaar, Superette, Slagters, Bottelstore,
Restaurante en Kroeë ook. Versprei rondom Maroth Park is ook ander restaurante, wat almal legendariese spyskaarte in hierdie gesonde bosomgewing bied.
Geniet 'n ete of 'n skemerkelkie by die Amazing Kruger View Restaurant terwyl jy kyk na diere wat in of oorkant die Krokodilrivier sonbaai, drink of baljaar.
As jy nie jou sport uitsending soos Rugby of sokker wil mis nie, gaan kyk dit by die Kameelperd of Bos-restaurante. Jy kan ook onder andere Pizza en baie meer by die Tin Shack eet,
en natuurlik ook by enige een van die vele ander restaurante in Marlothpark. Elkeen van hulle het sy eie sjarme en besienswaardighede! Sommige van hulle bied selfs "bestel en kollekteer"
dienste aan vir diegene wat dit soms verkies.
Henk Van Rooyen Oord
Geleë op die oewer van die Krokodilrivier is die Henk Van Rooyen-oord. Daar is 'n massiewe swembad met koel grasperke tussen reuse bosveldbome, asook braaiplekke in
skaduryke areas om heerlike buitelug etes voor te berei en te geniet. Hulle het ook vlooimarkte oor baie naweke. Doen navraag by die oord se ingangshek vir pryse.
Lionspruit
Marloth Park het sy eie privaat Wildreservaat, genaamd Lionspruit! Lionspruit het drie van Afrika se Groot 5. Dit is die beste verkose gebied vir Leeus en dit is gesog onder
hierdie groot katte, so jy kan gelukkig wees en Leeus ook daar sien! Wat jy in groot verskeidenheid en getalle in Lionspruit sal sien, is voëls! So, as voëlkyk jou ding is,
sit Lionspruit op jou voëlkyklys!
Daar is 'n aantal damme in die reservaat, wat veral in die somermaande skouspelagtig is. Ngwenya-, Impala-, Rooiwal- en Frikkiesdam is almal besoekplekke in Lionspruit, en die
veldwagters het 'n Aasvoëlrestaurant begin wat besoekers in staat stel om hierdie manjifieke voëls van naby te sien. Ons Ereveldwagters het 'n Piekniekarea by een van die damme
gebou en hulle onderhou dit. Hier kan jy uit jou motor uit klim, braai op vuur of bring jou skottelskaar saam en maak ontbyt of brunch in die bos! Lionspruit is 'n moet-besoek plek!
As jy liewer Lionspruit op 'n begeleide toer wil doen, gaan na die Inligtingsentrum op die hoek van Olifant en Ratelstraat vir inligting en kontakbesonderhede van die toerbesighede
wat Lionspruit-toere aanbied.
Vir die Voëlkykers
Daar is al meer as 300 spesies endemiese en somer imigrerende voëls in Marloth Park aangeteken. Begeleide voël besigtigings uitstapppies word gereeld gehou, so hou die
Marloth Park sosiale media-bladsye dop om te weet wanneer die volgende een, of ander interessante aktiwiteite, sal wees.
As jy verkies om op 'n boot geneem te word deur 'n kundige voëlkenner op die pragtige en wye Komati-rivier, kan ‘n groot aantal spesies aan jou uitgewys word.
Hierdie opsie is ook beskikbaar en daar is meer besonderhee op sosiale media of by die Inligtingsentrum.
Word Bederf!
Daar is 'n paar besighede wat die luukse ervaring van spa-behandelings vir haar, hom, of paartjies aanbied. Of jy kan jouself bederf by een van die haar salonne in Marloth Park.
Die Klein Vyf
Vir 'n ander ervaring van die bos, probeer om die Klein Vyf te vind!
1. Mier Leeu
2. Luiperd Skilpad
3. Buffel Wewer
4. Olifant Spitsmuis
5. Renoster Kewer
Daar is gidsboeke beskikbaar om jou te help om hierdie wesens te identifiseer, en daar is altyd die internet. Op jou ontdekkingsreis na die wêreld van klein wesens,
sal jy beslis dinge ontdek wat jou sal fassineer en betower!
Leer Jouself om Spoor te Sny
Enige plat, sanderige gebied, aan die rand van enige pad hier staan bekend as die daaglikse “bos koerant”. Spoor in sagte sand sal jou vertel watter diere daar verbygegaan het,
(en hulle jou dalk nou dop vanuit diep bedekking!) As jy kinders het, sal 'n spore gidsboek en 'n skool liniaal hulle dae lank vermaak! Dit kan ook vervang word deur 'n vinnige
internet soektog, die 4G-sein in die grootste deel van Marloth Park is redelik goed!
Nog 'n interessante manier om jouself te leer oor die diere wat die bos rondom jou met jou deel, is om na hulle mis te kyk. Hou weereens jou skool liniaal en die internet geredelik
beskikbaar. Daar is soveel meer aan die bos as Kameelperde en Sebras, so geniet die tyd om ook al die klein dingetjies en geheime te ontdek.
Vang 'n Tier
Visvang word nie in ons Bewaar area toegelaat nie, maar dit word bemark by die naby geleë Komati rivier! Daar word geglo dat daar geen varswater wildsvis is wat so opwindend is om
te hengel as die Tiervis nie! As jy so 'n avontuur wil beleef, kry die besonderhede by die inligtingsentrum in Olifant Straat.
Die Rivier Roetes
Die rivier roete is een van die mooiste wildritte wat jy ooit sal ry, en dit is net hier in Marloth Park! Daar is twee soorte paaie, in parralel. Die een is geskik vir sedan motors
(Krokodil en Seekoei) en die ander een is slegs toeganklik van hierdie twee strate af, en is net vir 4X4 voertuie. As jy op die sedan motor pad is, kan jy by baie plekke stop, jou
motor sluit, en afstap na die heining toe. Daar is menige uitkyk punte en vererings bankies waar jy kan sit en ontspan. Jy kan selfs op een spesifieke punt, in Seekoei straat stop
en kos op gas maak, terwyl jy in die Krokodil Rivier en die Kruger Wildtuin inkyk.
Die ander "pad" is 'n 4x4 roete, maar dit volg die oewer van die Krokodilrivier reg langs die heining. Dit bied wye oop uitsigte oor die rivierbedding. Al Afrika se Groot 5 word gereeld
op hierdie 4x4-lusse raakgesien.
Daar is slegs drie reëls wat op die 4X4 roetes van toepassing is. Die eerste is dat dit slegs in een rigting gery kan word. Daar is duidelike "eenrigting" tekens by die ingang van elke
lus en "geen toegang" tekens aan die einde van elkeen. Voldoen asseblief aan hierdie reël, aangesien dit onmoontlik is om op enige van hierdie roetes om te draai. As jy in die
verkeerde rigting ry en iemand anders kom van voor af, in die regte rigting, is dit 'n lang en moeilike agteruit ryery om jouself uit die verleentheid en bespotting te bevry.
Die tweede reël is dat jy op die tweespoor pad moet bly en net stop by punte wat vir parkerings gemaak is, gewoonlik langs 'n bankie of onder 'n skaduryke boom. Onthou dat jy deur
parkgrond ry, wat ‘n beskermde area is om skuiling en kos vir ons diere te bied.
Moenie hierdie roete in 'n normale sedan probeer ry nie. Daar word dikwels slote uitgespoel deur water, veral na reën, wat dit dan heeltemal ontoeganklik maak vir ‘n voertuig met
'n lae of normale grondvryhoogte.
Die derde en ‘n baie belangrike reël is dat hierdie paaie soms so erg beskadig word dat hulle dan afgesper word met geen toegang linte. Moet asseblief nie hierdie linte afsy of
ignoreer nie, aangesien die paadjies dan so erg beskadig word dat hulle vir maande daarna gesluit word.
Anders as in die Kruger Wildtuin, kan jy ook die roete stap, draf of met ‘n fiets ry, solank jy dit voor 18h00 in die middae en slegs na 06h00 in die oggende doen. Daar is gereelde
rusplekke onder skaduryke bome en jy sal duidelik die bos geluide hoor wat so 'n groot deel van jou ervaring sal uitmaak.
Daar is ook geen lekkerder plek om 'n "sundowner" te hê as op die oewer van die Krokodilrivier nie, en dit terwyl jy na die skouspelagtige, besoedelingsvrye, sonsondergang kyk terwyl
jy na die klanke van die Afrika-Bosveld luister en vars lug inasem! Onthou dat vure streng verbode is in hierdie areas, so as jy wil braai, sal jy dit op gas moet doen.
Wees asseblief 'n verantwoordelike bos besoeker en los niks anders as jou voetspore, of die spore van jou voertuig nie, en neem niks saam nie, behalwe jou eie rommel.